Dagelijks archief: woensdag 16 maart 2005

inleiding tot die ortodoksie

Waarom het ek nog nooit tevore van die Ortodokse Kerk gehoor nie?
Nee, ek sou nie kon sê nie. Dit bestaan al van Pinkster af en daar is minstens 150 miljoen van ons in die wêreld. In die VSA is die Ortodokse Kerk die kerk wat die vinnigste groei en in Brittanje is die Ortodokse Kerk die enigste Kerk wat ‘n toename in lidmate ervaar. Maar die meeste lidmate van die Ortodokse Kerk word nog gevind in die Oosblok-lande, soos Rusland, Roemenië, Serwië, Bulgarye asook in Griekeland en die Midde-Ooste.
 
Is julle soos die Katolieke of die Protestante?
Wel, die Ortodokse Kerk is “katoliek” in die volste sin van die woord: “Omvattend en sonder grense.” Maar ongeveer 500 jaar vóór Wes-Europa deur die Hervorming in Protestant en Katoliek verdeel geraak het, het Ortodokse Christene al geprotesteer teen die Pous van Rome en sy pogings in die 11de eeu om die oppergesag oor die Kerk te verkry asook teen nuwighede wat leerstellings betref. Die Ortodokse Kerk bly, wat leer en geloof betref, onveranderd sedert die vroeëKerk van die apostels. (Ja, dit is hoe lank ons al daar is!)
 
Jy voel duidelik seker van jou saak, né?
Dit is so, maar as jy in gedagte hou dat Jesus Christus beloof het dat Hy Sy Kerk sal stig en dat dit, wat geloof en die uitleef daarvan betref, onveranderd sal voortbestaan, en dat die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie, is dit nogal baie verfrissend (en bevestig dit ‘n mens se geloof)!
 
Glo julle in die Bybel?
Nee, ons glo in God! Ons glo egter wel dat die Bybel as die geïnspireerde woord van God ‘n deel van die Tradisie van die Kerk uitmaak. (2 Thess. 2:15) Dit was, om die waarheid te sê, die Kérk wat ons die Bybel gegee het soos wat ons dit vandag ken! (Jy het tog seker nie gedink dat dit, soos wat ons dit nou het, sommer so uit die hemel geval het nie, of hoe?)
 
Waarom moet ek na die Ortodokse Kerk kom, of wat dit betref, na enige kerk?
Waarom moet jy, “wat dit betref”, gaan werk, of skool toe gaan? Dit is ‘n doodnatuurlike ding om te doen! As kind van God moet jy Hom op die een of ander manier, hoe dan ook, saam met jou Christen broers en susters aanbid. Dit is die leer van die Skrif. Die Ortodokse Kerk bied die mees betekenisvolle en rykste uiting aan geloof en aanbidding wat daar is. (Jy sal dit moet sien om dit te glo!) Hoekom met minder tevrede wees? (Nogal ‘n hele mondvol, né?)

Inleiding tot die Ortodoksie